Die Simfoniese Uur
ROLVERDELING:
1. SUSAN (ongeveer 30 – professioneel)
2. DEWALD (laat 20 – loslit)
3. ANTON (vroeg 40 – diep)
4. RICARDO (ongeveer 60 – ouwêrelds)
—
KONSERTSAAL-MUSIEK SE LAASTE NOTE MET SIMBAAL
REUSE GEHOOR-APPLOUS
STEMME: Bravo! Bravo!
APPLOUS HOU AAN
STEMME: Encore! Bravo!
APPLOUS HOU AAN
SUSAN: (SAGGIES OP MIK) Nog ‘n asemrowende vertoning deur een van die wêreld se voorste simfonie-orkeste! Die Kaapse Filharmoniese Orkes!
APPLOUS HOU AAN
STEMME: Bravo! Bravo!
VROUE-STEM: Anton! Anton!
SUSAN: Die gehoor begin nou om hulle gunsteling-musikant te roep … en daar stap hy nou vorentoe …
APPLOUS WORD MEER
VROUESTEM: Anton! Ek’s lief vir jou!
SUSAN: Anton Lambrecht kom buig voor die waarderende gehoor. Sy spel, soos gewoonlik, was meesterlik.
APPLOUS BEGIN WEGSTERF
(VERVOLG) Goeienaand en welkom liewe luisteraars by Die Simfoniese Uur. Vanaand het ons ‘n spesiale buite-opname by die KFO se opvoering van Vivalde se Vier Seisoene en dis vir ons ‘n geweldige voorreg om vanaand met die meester self, Anton Lambrecht, die simbaal-speler van die KFO te gesels. Hy het ingestem om ‘n halfuur af te knyp om met ons te praat en ons gesprek met hom volg ná die reklame-flitse.
DEWALD: En … cut.
SUSAN: Dankie, Dewald. Klink dit darem na iets? Die gehoor se applous was oorverdowend.
DEWALD: Ag, moenie worry nie. Die gejuig help met die atmosfeer. En wanneer ek die finale program meng sal ek alles mooi netjies balanseer en die meeste maak van daai sexy stem van jou.
SUSAN: Gmmf, met jou weet ek nooit of jy opreg is of sarkasties is nie.
DEWALD: Moet my nie te serious vat nie, ou girl. Nou ja, laat ons gou die gear gryp en dan kan ons die prins self gaan ontmoet.
SUSAN: Okei – waar het ek nou weer sy agent se instruksies gesit. Ek hoop net hy onthou. Het hy gesê ons moet hom backstage ontmoet?
DEWALD: Sover ek kan onthou ja. Laat ek net gou die recorder in sy tassie sit en dan kan ons skiedaddel.
DOOF; OORGANG
OPGEWONDE STEMME
DEWALD: Nou ja, dis tienuur. Waar is hy?
SUSAN: Ek weet nie. Wag … laat ek net …
RITSSLUITER
DEWALD: En nou? Vir wat sit jy make-up op? Dis radio, ou Girl. Niemand kan jou sien nie.
SUSAN: (MET GETUITE LIPPE) Gaan bars, Dewald. Daar is niks fout om jou beste te lyk vir ‘n onderhoud nie. Ek dink die term is professionalisme. Miskien kan jy soms self aan jou voorkoms werk.
DEWALD: Luister, girl, as ek ‘n das wou dra by die werk het ek nie na twee weke my job as teller by die bank bedank nie.
RITSSLUITER
SUSAN: So, hoe lyk ek?
DEWALD: Soos ‘n million bucks. Ek is seker ons luisteraars gaan erg beïndruk wees.
SUSAN: Wag, daar gaan ‘n deur oop. Ag, nee. Ek dink dis daai Ricardo Olivier – die klavierspeler.
RICARDO: (KOM NADER) Het iemand my naam genoem?
SUSAN: (VRIENDELIK) Meneer Olivier? Ek herken u van die fotos in die persvrystelling. My naam is Susan de Lange. Ek is die aanbieder van Die Simfoniese Uur.
RICARDO: O, ‘naand Juffrou de Lange. Ek herken u stem. Maar ek moet sê u lyk heelwat anders in die regte lewe.
SUSAN: Baie mense sê so.
DEWALD: Ja. Sy klink jonger op die radio.
SUSAN: Ag, verskoon tog … dis my tegniese assistent …
DEWALD: … ingenieur …
SUSAN: (SUG) ingenieur, Dewald Alberts.
RICARDO: Aangename kennis, Jonge. Is daar iets waarmee ek kan help?
SUSAN: Ag, nee dankie. Ons wag eintlik vir Anton Lambrecht.
RICARDO: (VENYNIG) Natuurlik. Die hemel se eie simbaalslaner.
SUSAN: Ekskuus?
RICARDO: Ek dink u het my die eerste keer reg gehoor. Nou ja, Juffrou de Lange, Meneer Alberts. Laat ek u nie verder steur in u wagwerk nie – waarvan u heelwat gaan doen soos ek die primadonna ken.
SUSAN: Wat bedoel u?
RICARDO: Lambrecht is in sy verklee-kamer. In sy spesiale borrelbad met twee flerries en ‘n bottel sjampanje. Dis waarskynlik dat jullle ‘n geruime tyd sal wag.
DEWALD: Dis nou great. Soes, ek het jou gesê ek het vanaand ‘n DJ gig in Seepunt..
SUSAN: Dis nou ‘n penarie. Ons het ‘n afspraak gemaak ….
RICARDO: Juffrou Alberts. Afsprake. Dagboeke.Die klas dinge is benede Lambrecht en sy soort.
SUSAN: Wel … miskien kan ons ‘n paar minute van u tyd steel. Terwyl ons wag. Dan kan u miskien vir ons die man beskryf vanuit die perspektief van ‘n mede-speler en kollega?
RICARDO: ‘n Geleentheid om oor Anton Lambrecht te praat? Juffrou de Lange ek sal geëerd wees om u met u program te help. En ek is seker hier is ‘n paar van my ander kollegas wat ook maar te bly sal wees om bystand te verleen.
SUSAN: (ONSEKER) Er .. dankie.
RICARDO: (BEWEEG WEG) Dirk. Charl! Sunet! Die draadloos se mense is hier. Hulle wil met ons gesels oor ons simbaal-speler.
DOOF
DEUR OOP; DAAR IS NOU MINDER STEMME IN DIE GANGE AGTER DIE TEATERVERHOOG
SUSAN: Er … baie dankie, Meneer Oliver. Julle openhartigheid … dit sal ons regtig … help.
RICARDO: Dit was die grootste plesier, Juffrou. Dewald, sterkte vir julle. Ek sien uit om die program op die radio te hoor. Wanneer saai julle dit uit?
DEWALD: Hierdie een is oor twee weke op die lug.
SUSAN: Maar … er … julle sal verstaan – ons kan nie al die materiaal gebruik nie … die program … dis maar aan die kort kant.
RICARDO: Wel, Juffrou. Ek hoop julle gebruik alles. Ons help graag waar ons kan om die luisteraars – en bewonderaars van ons kollega ‘n deeglike beeld van sy persona te gee.
SUSAN: Wel …
RICARDO: Nou ja, ek sien sy deur staan nou half-oop. Ek neem aan hy is reg vir julle. Sterkte. En ek sien uit om na Die Simfoniese Uur te luister – oor twee weke?
DEWALD: Dis hom.
RICARDO: Tot siens, Juffrou de Lange, Meneer Alberts. Goed om julle te ontmoet. En dankie vir die goeie werk wat julle vir klassieke musiek doen.
DEWALD: Shot. Dis ok.
RICARDO: Tot siens.
DEUR TOE
SUSAN: (SAGGIES) Dewald! Wat gaan ons doen? Ons kan nie ‘n woord van daai onderhoude gebruik nie. Hulle háát hom!
DEWALD: Oef, daai tjello-speler. Sunet? Sy is nou wat ek aanvallig noem. Ek het die pienk blose op haar wange gesmaak toe sy so driftig raak. Driftige, nerdy, aanvallige chicks. Hulle doen dit vir my.
SUSAN: Dewald, hou jou hormone in lyn. Ons het ‘n probleem. Hierdie is van die land se voorste musikante. En hulle gaan na elke woord van die program luister. As ons nie hulle onderhoude gebruik nie, sal hulle dink Die Simfoniese Uur is oneerlik.
DEWALD: Ag, hulle is seker net jaloers op sy celebrity-status.
SUSAN: Jaloers of nie. Jy gaan jou towerstaffie moet swaai oor daai onderhoude om dit gebruiklik te kry.
DEWALD: Ja, so moenie worry nie. Hulle noem my nie verniet Mister Edit onder in die bunker nie.
SUSAN: Ek hoop so, Mister Edit.
DEWALD: Ek dink die meester het beweeg. Klop, sussie.
SUSAN: Wag!
RITSSLUITER
DEWALD: Wat? Nog make-up?
SUSAN: Professionalisme. Dis in die woordeboek.
DEWALD: (SAGGIES, VIR HOMSELF) Oordoen. Dis in my woordeboek.
RITSSLUITER
SUSAN: Wat sê jy?
DEWALD: Niks. Ek sê as die madame reg is – klop maar.
SUSAN: (DIEP ASEM) Hier gaat ons.
KLOP AAN ‘N DEUR
ANTON: Ja!
SUSAN: Hello? Meneer Lambrecht?
ANTON: (binne) Ja! Wie’s daar?
DEUR KREUN OOP
SUSAN: Hello, Anton Lambrecht?
ANTON: Hello daar. Hoe kan ek so oulike astertjie help? So … laat in die nag?
SUSAN: (GIGGEL) Meneer Lambrecht. Susan de Lange. Simfo …
ANTON: Simfoniese Uur. My gunsteling radio-program. Die eer is myne.
SUSAN: (VERSTOM) Ek het nie eers geweet u luister nie. Aangename kennis.
ANTON: Asseblief, noem my Anton.
SUSAN: Sjoe. Dankie … Anton.
DEWALD: (MAAK KEEL SKOON)
SUSAN: Ag, verskoon tog my maniere. Dis Dewald Alberts. Hy is ons program se klankman.
DEWALD: -ingenieur.
ANTON: Hello Japie. Jammer. Ek is vreeslik sleg met name van assistente. So ek noem alle assistente of Japie of Saartjie. Dit maak my lewe baie makliker.
DEWALD: Japie?
(VIR HOMSELF) Jy grap seker.
ANTON: Uitsonderlike talent, soos joune, is natuurlik anders, Susan. Maggies, het iemand al vir jou gesê dat jy so mooi is soos jou stem op die radio. Ek dog hulle sit al die eendjies op die draadloos en die swane op die skerm?
SUSAN: Gits!
DEWALD: (VIR HOMSELF) So ‘n ou slang.
SUSAN: Ekskuus, Dewald?
DEWALD: Niks. Ek sê maar net iets oor die weer.
SUSAN: Anton, verskoon tog. Moet asseblief nie ons program se professionaliteit meet aan Dewald nie. Die tegnici is maar hulle eie soort.
ANTON: Ag, Susan. Ek verstaan maar te goed. Nou, waarmee kan ek jou help?
SUSAN: Wel ons is hier vir die onderhoud.
ANTON: Onderhoud … onderhoud?
SUSAN: Ja, ons het gereël met jou agent? Ek dink … laat ek net hier in my notaboek kyk …
PAPIERE
SUSAN: Ja, Hier’s hy. Michelle. Michelle het my nog geskakel vanmore om te bevestig.
ANTON: Michelle?
DEWALD: Saartjie.
ANTON: Oeg, dankie. Ja. My agent se assistentjie. Ja, nou onthou ek. Kyk, ek is vreeslik moeg. Maar siende dat julle so lank gewag het … het jy die vertoning geniet?
SUSAN: Dit was meesterlik.
DEWALD: Ek het nogal van die tjello solo gehou.
ANTON: Dink jy so, Susan?
SUSAN: Absoluut.
ANTON: Wel, ek praat graag met julle. Maar hierdie tyd van die aand … ek sal regtig verkies as ons dit in my woonstel kan doen. Dis nie ver nie. In Kampsbaai.
DEWALD: Soes, onthou – ek moet middernag weg wees.
SUSAN: Ek is seker dit sal nie te lank vat nie?
ANTON: Wel – ons sal moet sien. Ek is in ‘n gesels-bui.
DEWALD: Susan.
SUSAN: Kom, Dewald. Ons het so lank gewag om die afspraak te kry.
DEWALD: (SUG) Okei. Gee my die adres. Ons moet eers ons toerusting na die kombi toe dra.
ANTON: Wel, julle kan altyd saam met my kom?
SUSAN: Sjoe – dankie.
ANTON: Enigste probleem is – dis ‘n Porche en ongelukkig is daar net genoeg ruimte vir een passasier. En … al hierdie die kabels en tasse? Dit sal ongelukkig nie inpas nie.
SUSAN: O, ja. Ek … wel …
ANTON: Wel, Susan. Dan is dit afgespreek. Jy kom saam met my en dan kan Japie in die kombi volg. Laat ek die adres hier neerskryf …
PEN KRAP OP PAPIER
ANTON: Hierso. Dis maklik.
DEWALD: Great. Susan?
SUSAN: Dewald, ek dink ek sal maar solank saam met Anton gaan. Dan … dan ek solank … in die motor … er … die grondwerk. Sodat ons vinniger kan klaarkom. Dan kan jy nog by jou afspraak wees later. Dit sal jou mos help, of hoe?
DEWALD: Ja. (SUG). Dankie dat jy eerste aan my dink.
ANTON: Nou ja. Sien jou later, Japie. Kom, Susan. Dan kan jy my presies vertel wat jy van my trefslae in die derde beweging gedink het.
DOOF
GRENDEL EN DAN DEUR WAT OOPSWAAI
ANTON: So ja. Kom in. Welkom by my nederige huisie.
VOETSTAPPE EGGO
SUSAN: Dankie. Sjoe, Anton. Jou plek is fantasties. Die uitsig … dis asemrowend.
ANTON: Ag, dis ‘n plek om my kop neer te lê. Maak jouself gemaklik. Ek glip gou in iets meer gerieflik. (BEWEEG WEG)
SUSAN: Dankie.
RITSSLUITER
KNOPPIES OP ‘N SELFOON
LUI-TOON
DEWALD: (FILTER) Hello.
SUSAN: Waar’s jy?
DEWALD: (FILTER) Waar is ek? Ek is nog by die konsertsaal. Ek moes drie-keer loop om al die gear in die kombi te laai. Gewoonlik help jy darem met een of twee goed. So dis waar ek is.
SUSAN: Wel, roer jou. Hy is in ‘n baie goeie bui en ons kan goeie materiaal kry.
DEWALD: (FILTER) Ja, wel, die kombi ry nou nie so vinnig soos ‘n Porche nie.
SUSAN: Ons wag vir jou, Dewald.
DEWALD: (FILTER) Ek doen wat ek kan met die beperkte hulp wat ek van jou kant af gehad het. Ek kan net sowel my gig vanaand vergeet.
SUSAN: Ons offer maar almal op wat ons kan vir Die Simfoniese Uur. Jy weet dit.
DEWALD: (FILTER) (VIR HOMSELF) Party van ons offer net bietjie meer.
SUSAN: Ekskuus?
DEWALD: (FILTER) Ek sê ek hoop daar is min verkeer.
SUSAN: Wel, die pad was stil. So jy het geen verskonings nie. Wag, hier kom hy nou terug. Baai.
KNOPPIE EN KLIK
ANTON: O, haai. Met wie praat jy?
SUSAN: Kyk, sommer waar die Japie is. (lag)
ANTON: Natuurlik. Drankie?
SUSAN: Ek neem nie gewoonlik iets terwyl ek werk nie, dankie, Anton.
ANTON: Wel, ek hoop nie jy gee om as ek ‘n whiskey drink nie. Wat van ‘n soda?
SUSAN: Dit sal lekker wees.
YS RINKEL IN GLASE
DRANKIES VLOEI IN
ANTON: So ja. Laat my maar net weet as jy lus kry vir iets anders. Enige iets anders.
SUSAN: Dankie. Gaaf van jou.
ANTON: Gesondheid.
GLASE KLINK
SUSAN: Gesondheid.
ANTON: (TEUG) Nou ja, ek hoop nie jy gee om as ek ‘n bietjie musiek aansit nie. Dit help my ontspan ná ‘n vertoning.
SUSAN: Seker. Dis net, as ons opneem, sal ons stilte verkies.
ANTON: Natuurlik.
LASERSKYF IN SPELER
ANTON: ‘n Stukkie barok. Geen simbale nie. As daar simbale in ‘n stuk is kan ek nie ontspan nie, want ek luister heeltyd vir die foute. Ek kan nie vir jou beskryf hoe laag van die opnames se standaarde is nie. Simbale slaan milli-sekondes te vroeg of te laat.
SUSAN: Regtig?
MUSIEK: BACH, VIOOL-SUITES
ANTON: Dis soos ‘n vals noot. Wie sal ‘n vals noot in ‘n simfoniese opname duld. Maar niemand gee om as die simbaal te vroeg of te laat is nie.
SUSAN: Ek het nooit besef nie. Miskien is dit net jou, geoefende oor wat dit kan optel?
ANTON: Susan, natuurlik is dit net my geoefende oor wat kan uitmaak wat die fout is. Maar vir jou onprofessionele oor is daar net ‘n krapperigheid. Het jy nog nooit na ‘n opname geluister en net gevind dat dit jou nie … reg klink nie?
SUSAN: Ja. Baie.
ANTON: Wel dis nie die musiek se skuld nie. Meeste van die tyd, is dit die simbaal wat te vroeg of te laat is.
SUSAN: Maak dit … so groot verskil?
ANTON: My maggies, Susan. In simfoniese musiek is stilte net so belangrik soos klank. Die simbaal is die lyne op ‘n skildery. Of die punktuasie in literatuur. Kan jy jou voorstel? ‘n Picasso met die oë wat te naby aan mekaar is? Of ‘n Van Wyk Louw gedig waar die strofes in die middel gebreek word.
SUSAN: Ek sien wat jy sê.
ANTON: Daar is geen twyfel dat die simbaal die belangrikste instrument in die orkes is nie.
OOMBLIK STILTE
SUSAN: Jou voorkamer is soos ‘n museum. Soveel dinge om na te kyk. Die fotos. Die geraamde koerantknipsels. Dis … als so … ongelooflik.
ANTON: Wel, laat my toe om jou persoonlike toergids te wees.
SUSAN: (GIGGELRIG) Dankie.
ANTON: Hierdie stel fotos is ‘n foto-essay van my hoërskooljare. Dit het vroeg al geblyk dat ek ‘n slag met die simbale kon slaan. Eers in die skool se kadet-orkes – en dis hier waar ek gelukkig was om ‘n onderwyser te hê wat musiek verstaan het. Sy het my op die regte spoor gesit.
SUSAN: Vroeg al talent gewys. Sjoe.
ANTON: Selfs vroeër. My ma het altyd vertel – kyk hier is ‘n foto van haar – sy het altyd vertel hoe ek in die kraamsaal ‘n stel defibrilators probeer gryp het om hulle saam te slaan. Sy het altyd gesê sy het vroeg al geweet dat ek een van die bestes van ons tyd kon word.
SUSAN: Soveel visie.
DEURKLOKKIE
5 ANTON: Ah, klink my die Japie is hier. Ek maak gou oop vir hom.
DOOF
DEURKLOKKIE
DEUR OOP
ANTON: Wel, ek’s bly jy kon dit darem uiteindelik maak.
DEWALD: Asseblief. Kom ons kry dit oor. Ek’s klaar laat vir my gig.
HULLE BEGIN SAAM BEWEEG
ANTON: So aaklike woord wat mindere kunstenaars gebruik. Gig. Dis
sulke grotmantaal.
DEWALD: Wel hierdie grotman se gigs help om die wolf van die deur te hou. Ek DJ in ‘n klub in Seepunt. Maar vanaand, danksy meerdere kunstenaars sal daai kraantjie waarskynlik toegedraai word. Die manager like nie as mens laat is nie.
ANTON: Wel, bepaal jou by jou werk. Susan se program is baie belangrik vir klassiese musiek. Jy behoort jouself gelukkig te ag dat jy die geleentheid het om ‘n klein bydrae te lewer deur deel Susan se span te wees.
DEWALD: (VIR HOMSELF) Susan se span? Ek dog ek en Susan was die span.
ANTON: Susan, hier’s hy nou.
SUSAN: (KOM NADER) Hello, Dewald.
DEWALD: (GEMAAK OPGEWEK) O, hello Susan! Ek sien jy geniet sover jou aandjie uit? Jammer ek is laat, hoor, dis net dat ek alles self moes doen. Maar ek sien jy het darem intussen jouself gerieflik gemaak?
SUSAN: Verskoon ons net ‘n oomblik, asseblief, Anton.
ANTON: (GEAMUSEERD) Geen probleem nie.
SUSAN: (SAGGIES) Jy kan insinueer wat jy wil. Dis net ‘n sodawater. En vir wat is jy so onbeskof voor ons gas? Wat het in jou ingevaar?
DEWALD: (SAGGIES) Ek dink nie nou is die tyd om maniere te bespreek nie. Ons werk altyd saam. Ons reis altyd saam en jy sit darem altyd ‘n handjie by. Ek moet jou vra – wat het by jou ingevaar? Jy bloos soos ‘n bakvissie met hierdie bobbejaan.
SUSAN: (SAGGIES) Moenie laf wees nie.
DEWALD: (SAGGIES) Wel, ek gaan nou nooit betyds wees nie. So - thanks. Thank you, very much, nicely.
SUSAN: (SAGGIES) Ek het nie altyd beheer oor die omstandighede …
DEWALD: (SAGGIES) Spaar my. Kom ons kry dit verby.
SUSAN: (SAGGIES) Dewald. Moenie so wees nie.
DEWALD: So, waar kan ek my … toerusting …opstel?
ANTON: Wel, my oefen-ateljee is stil. Kom ek wys julle.
VOETSTAPPE OP PLANKVLOER
ANTON: So ja, draai hier in. Daar’s hy.
DEUR OOP
ANTON: Dames eerste.
SUSAN: Dankie.
DIE ATMOSFEER IN DIE KAMER IS ATELJEE-STIL;
ABSOLUUT GEEN EGGO NIE
SUSAN: Sjoe. Al die klank-dempers teen die mure.
ANTON: Shhhh … absolute stilte.
POUSE; STILTE
ANTON: Is dit nie wonderlik nie? Dis al hoe ek my innerlike fokus kan vind. Hierdie is nie net my werk-kamer nie. Dis ook ‘n ruimte waarin ek kan mediteer. Luister. (PREWELEND) Na my eie ritme …
NOG STILTE
SUSAN: Ongeloof …
ANTON: Shhhh!
NOG STILTE
ANTON: So ja. (DIEP ASEMTEUG) Nou kan ek weer fokus.
DEWALD: Ok, dit sal okei wees. Soos om in ‘n ateljee op te neem. Perfek.
ANTON: Natuurlik is dit perfek.
DEWALD: Net ‘n oomblik.
GEVROETEL MET INSTRUMENTE
SUSAN: Terwyl Dewald alles opstel, Anton, sê my, wat is in hierdie kis?
ANTON: Ah! Laat ek jou wys. Dit sal nou vir jou ‘n egte voorreg wees om vir jouself te sien. Net ‘n oomblik terwyl ek die knippe
SLOTTE EN GRENDELS
ANTON: Daar’s hy.
SWAAR KISDEUR SWAAI OOP
SUSAN: (SNAK NA ASEM) Sjoe!
ANTON: My gereedskap. My simbale.
DEWALD: Okei, ek’s reg. Ons kan maar rol.
SUSAN: Hulle skitter.
ANTON: Gemyn, gedraai en vervolmaak deur die vaardigste vingers, diep in die woude van Shang Yeung Meng. Waar die ambag van simbaal-vervaardiging al vir eeue lank in beoefen word en nou ‘n kunsvorm is.
DEWALD: Don’t mind me, julle tweetjies. Anyways, ek rol maar in elk geval.
SUSAN: Hulle is amper … perfek?
ANTON: Nie amper nie, Susan. Hulle is perfek. En die leerhandvatsels is gevorm om die kneukels van die individuele speler. Jy moet self teenwoordig wees as die simbaal uit die vuur kom.
SUSAN: Hoekom … hoekom is dit?
ANTON: Jy moet vir jou simbale elkeen ‘n karakter gee.
SUSAN: ‘n Karakter? Ek verstaan nie.
ANTON: Dis moeilik om te begryp as jy nie die kuns van simbaal-speel self beoefen nie. Maar laat ek probeer verduidelik.
SUSAN: Asseblief – en verskoon asseblief my onkunde.
ANTON: Geen probleem nie. Dit gaan oor die dualiteit van die heelal. Twee simbale, twee halwes van ‘n hele. Een is links. Die ander is regs.
SUSAN: Ek sien.
ANTON: Een is jing. Die ander is jang. Saamgeslaan, deur die speler waardeur die heelal vloei, vorm hulle ‘n perfekte slag wat oprys uit die geharwar van die mindere instrumente om hulle.
SUSAN: Er … ?
ANTON: Die viole, die tjellos, die fluite, klaviere en die getjommel van die basse. Die perfekte slae van die simbale, die tweeling-spil waarom die simfonie draai, rys op en bring struktuur in die simfonie.
SUSAN: Ek dink ek … verstaan die dualiteit. Maar hoekom moet die speler die simbale ‘n karakter gee?
ANTON: Sodat as die simbaal geslaan word, die meester weet presies hoe hard die linker simbaal op die regter moet val. Bietjie hoër, of bietjie laer. Bietjie meer van regs, bietjie minder van links.
SUSAN: Ek sien.
ANTON: Ja – kyk hier. (TEL SIMBALE OP) Hierdie twee simbale - hierdie een is Dokter Willem Basson van die WNNR en sy tweeling is Admiraal Arthur J. Flagstaff, hoof van die vloot. Die presisie van tegnologiese navorsing en militêre uitvoering, verenig saam in simfoniese eenheid.
DEWALD: Genugtig.
SUSAN: (GEDEMP) Dewald!
DEWALD: (FLUISTER) Edit, Susan, edit.
ANTON: Wanneer ek speel, vloei beide karakters deur my. In die linker hemisfeer van my gemoed, seevier die kort gesette admiraal met sy krulsnor. Aan die regterhand, lei die briljante Dokter Basson sy span navorsers om mikroskopiese verstellings te maak aan hulle formules. Om stadig maar seker die geheimenisse van die skepping te ontsluier.
SUSAN: (AAN DEWALD; SAGGIES) Kry jy dit als? Hy’s ‘n genie!
DEWALD: (GRINNIKERIG) Elke woord, Sussie. Elke woord.
ANTON: Sien, as die admiraal ‘n veldtog beplan dan is hy depressief, en drink hy swaar. Hy dra die lot van baie manskappe op sy skouers en hy dra die kruis. Dan is Dokter Basson op sy sterkste en klink die slag so:
SIMBAAL
SUSAN: Fantasties!
ANTON: As Dokter Basson se navorsing bevraagteken word – en die admiraal Is sterk want sy skepe vaar in die son oor die blou see, triomfantelik op hulle veldtog, dan klink dieselfde simbale spookagtig anders …
SIMBAAL
ANTON: In daardie vuur. In daardie nag. Word die simbaal gebore. Kompleet met sy karakter. En geheg aan sy speler. En so, saam, word hulle ook hulle eie dualiteit. Die speler, niks sonder sy simbaal nie. En sy simbaal, net ‘n koperskyf in ‘n kis tot sy speler hom optel en hy die Dokter of die Admiraal word.
SUSAN: Wat is die ander simbale se name?
ANTON: (SIT SIMBALE NEER, TEL ANDER OP) Hierdie twee kleintjies? Dis Kobus en Sanmarie Steyn van die plaas Kokersfontein in die Winburg-distrik. Kobus is ‘n nukkerige man. Hard gebrei deur ‘n lewe op ‘n plaas van droogte. Sanmarie, ‘n stadsmeisie wat haar hart op universiteit aan die boer verloor het. Sy is die vrolike fontein van die lewe self. Jeugdig vir haar vyf-en-veertig jaar en ‘n slag in die kombuis. Twee teenpole – miskien – maar saam; ‘n asemrowende klank.
SIMBAAL
SUSAN: Briljant.
ANTON: Ja. Dit is. Lyk hulle nie vir jou ietwat bekend nie?
SUSAN: Wat bedoel jy, Anton?
ANTON: Dis met hierdie twee simbale wat ek mee geposeer het vir Vanity Fair se voorblad-sessie met Jennifer Aniston. Jy weet mos, die berugte foto wat Annie Leibovitz geskiet het, toe ek net die simbale gebruik het om Jennifer se bates toe te hou. Kyk daar is die vegroting agter julle op die muur:
DEWALD: (WOLWEFLUIT) Sjoe!
SUSAN: Natuurlik.
ANTON: Die simbale miskien, maar definitief nie die bates nie!
SUSAN: (LAG) Ag, Anton.
ANTON: (LAG) Definitief nie die bates nie. Ai. Goeie een.
SUSAN: So, Anton, vertel ons luisteraars meer van dié plek … Yeung …
ANTON: Yang Sheung Meng?
SUSAN: Dis hom.
ANTON: Ons hou nie daarvan om oor die plek te praat nie. Maar siende dat jy vra. Yang Sheung Meng is ‘n tempel-kompleks, in die hart van ‘n geheime woud in die Shanxi provinsie van China.
SUSAN: China?
ANTON: Ja, dis waar die oer-oue simbaal-kuns ontstaan het. Waar die eerste ou meesters gegote koper gebruik het om die ritme in hulle siel te verwesenlik in die stille woude.
SUSAN: Ek sien.
ANTON: Dis waar elke simbaal-speler wat sy sout werd is heen gaan om sy innerlike ritme te vind. Dit is so stil dat jy jou eie hartklop kan hoor. En waar jy jouself ontmoet.
SUSAN: Fassinerend.
ANTON: Ons ou Meester, Cheung die Afwisselende, het al die groot simbaal spelers van die laaste eeu ge-inisieer. Legendes lui dat hy al oor die 150 jaar oud is, maar daar is natuurlik geen bewyse daarvoor nie.
DEWALD: (SAGGIES) Natuurlik nie.
ANTON: Ekskuus?
DEWALD: Ek sê dit is ongelooflik, is dit nie.
ANTON: Ek kry nog elke maand ‘n handgeskrewe brief van hom. Ek dink ek was sy sterstudent.
SUSAN: (VOL EER) Ek kan dit glo.
ANTON: Kyk hier, is ‘n foto van hom. En sy laaste brief aan my.
PAPIER RITSEL
SUSAN: Dis alles in Chinees. Hoe verstaan jy dit?
ANTON: Dis Mandaryn. Elke simbaal-speler wat onder Cheung wil studeer moet Mandaryn leer. Dis al taal wat hy kan praat. Dit, en natuurlik Simbaal.
SUSAN: Ek wens ons luisteraars kan dié foto wat jy my nou gewys het sien, Anton. So karaktervolle gesig. En ‘n lang baard.
ANTON: Wel ek hou nie daarvan om Cheung bloot te stel nie. Soos ek sê, ons hou nie daarvan om oor Yang Sheung Meng te praat nie. Dis ons eie wegvlug-plek. En waar ons ons ritme kan kalibreer. Ek maak nog elke jaar my pelgrimstog op soheen.
SUSAN: Cheung moet seker bly wees om jou te sien.
ANTON: Inderdaad. Maar hy word nou oud. En hy is baie blind. Maar sy simbaal-spel is nog so foutloos soos altyd. En sy gehoor is natuurlik super-skerp. As daar ‘n paar van ons gelyk daar is, kan hy ons uitken net aan een simbaal-slag.
SUSAN: Ongelooflik. Is dit naby die plek waar jy sê die simbale gemaak word. Waar hulle karakters gevorm word in die vuur?
ANTON: Ja. Die tempel is in die vallei waar die suiwerste koper gemyn word. Die vuuroond self is op ‘n berg langsaan. Maar dis ten minste ‘n dag se klim. As jy ‘n stel simbale laat maak, begin jy net voor dagbreek die berg uitklim – en teen sononder, as jy fiks is, behoort jy die piek te bereik waar jou simbale uit die vuurdoop sal kom, gebore in die donker nag in die woud.
SUSAN: En Anton, ek kan verstaan as dit ‘n moeilike vraag is om te beantwoord, maar hoe besluit jy op die karakters?
ANTON: Terwyl jy klim, en jy nader aan die piek kom, skyn die simbale se siele deur die stilte van die vallei. Dan sien jy hulle in jouself - en in die vuur waar die koper gegiet word.
STILTE
SUSAN: Fassinerend. Anton, sê vir my, is daar afguns tussen julle? Die simbaal-spelers?
ANTON: Nee. Glad nie. Cheung duld dit nie. Ons is broers, verenig deur ons kuns en ons herkoms. Ons word genoeg gehaat deur ons medespelers in simfoniese orkeste oor die hele wêreld.
SUSAN: Hoekom is dit?
ANTON: Hulle is niks sonder ons nie. En hulle weet dit.
SUSAN: Dit moet ‘n vreeslike eensame bestaan wees. Om saam met jou orkes te reis en jy word … gehaat … vir jou kuns?
ANTON: Ek hou my kop hoog, Susan. Moet jy en jou luisteraars nie daaroor bekommer nie. Ek kry heelwat tyd vir skryf. En het natuurlik heelwat om oor te skryf.
SUSAN: Regtig? Werk jy dalk aan ‘n outo-biografie?
ANTON: Jy sien deur my, Susan. Jy raai reg. My outo-biografie, Simbool/Simbaal verskyn in die lente. Dit gaan by alle vername boekhandelaars beskikbaar wees.
SUSAN: Ek is seker ons luisteraars kan nie wag nie. Ek weet ek kan nie. Sê vir my, Anton, is daar ‘n spesiale iemand in jou lewe?
ANTON: Ek is bevrees nie, Susan. Tussen al my simbale, is daar nie veel plek vir ‘n dame nie. Daar is nie plek vir ‘n derde persoon in my dualistiese bestaan met my simbale nie.
SUSAN: Dis ‘n jammerte. Ek bedoel, dis jammer vir jou.
ANTON: Miskien het ek nog nie die regte persoon ontmoet nie.
SUSAN: Miskien.
DEWALD: Er … cut. Anton, my ou, kan jy ons ‘n oomblik alleen gee?
ANTON: Gaaf. Ek skink vir myself nog ‘n drankie. (BEWEEG WEG)
DEWALD: Soes, wat gaan met jou aan? Voer jy ‘n onderhoud of wat?
SUSAN: Wat bedoel jy?
DEWALD: Jy klink heeltemal onprofessioneel man.
SUSAN: (VERWARD) Wat … bedoel jy? Preek jy vir my oor professionalisme wanneer jy …
DEWALD: Luister. Ek hoef dit nie vir jou te sê nie. Maar jy maak jouself belaglik. Jy is altyd so pro, maar jy klink soos ‘n bakvissie. En let’s face it, hy is ‘n self-centred bobbejaan.
SUSAN: Ek dink jy is van jou sinne beroof. Ek probeer net die persoon agter die ster soek. Om die regte Anton Lambrecht aan ons luisteraars voor te stel.
DEWALD: Soes, ons luisteraars wil nie die regte Anton Lambrecht ontmoet nie. Jy kan sien hoekom die ander in die KFO hom by ‘n trap wil afstoot.
SUSAN: Dewald dis niks meer as professionele jaloesie nie. Hy het tog self so gesê.
DEWALD: Hy sal enigiets sê. Ek meen daai snert oor die simbale en hulle karakters. Give me a break.
SUSAN: Miskien verstaan jy nie kuns nie.
DEWALD: O, so nou dink jy ook ek is net sommer die tegniese hulp. Die Japie. Huh?
SUSAN: (KWAAD) Wel jy gedra jouself soos een! Jy’s onbeskof. En onverfynd.
DEWALD: Wel, wel, wel. Daar kom alles nou uit. Dewald is nie goed genoeg vir jou nie. Goed genoeg om jou knoppies te druk, sure. Maar die groot meester draai jou ‘n rat voor die oë.
SUSAN: Ek het dit nie so bedoel nie.
DEWALD: Whatever. Ek is miskien ‘n eenvoudige mens. En miskien steek ek nie my hemp in my jeans nie. Maar ek het oë in my kop. En ek sien ‘n eens professionele musiek-joernalis, opgeswiep in die histerie van ‘n niks. Anyway, wat weet ek. Ek druk net die knoppies.
ANTON: (KOM NADER) Alles reg?
SUSAN: Alles is piekfyn.
ANTON: Susan. Ek het nou so bevlieging gekry. Wat sê jy ons maak gou hierdie onderhoudjie klaar – en dan, more-oggend, vang ons die vroeg-oggend vlug Frankfurt toe. Vandaar, gaan wys ek jou Wene, waar ek al soveel keer my simbale geslaan het.
SUSAN: Anton! Dis … skielik.
ANTON: Soms slaan die simbaal wanneer hy moet slaan. Onverwags, dog skoon, en rein, en suiwer.
DEWALD: Give me a break. Susan, moenie stupid wees nie.
ANTON: Bly uit dit uit, Dewald.
SUSAN: Wel, Anton. Ek het nie eens klere nie.
ANTON: Klere? Ons koop klere daar. As jy nie jou paspoort het nie kan ons by jou plek stop voor ons lughawe toe ry?
SUSAN: Dis so skielik, maar okei! Dit klink na ‘n wonderlike avontuur!
ANTON: Nou ja. Japie. Kom ons maak klaar met die onderhoudjie. Dan kan jy nou jou … gig … toe gaan. Kom, Susan. Laat ons klaarmaak.
DOOF
KANTOOR-ATMOSFEER
TELEFOON LUI
DEWALD: Hello, Alberts wat praat.
SUSAN: (FILTER) Dewald, dis ek.
DEWALD: O. Hallo.
SUSAN: (FILTER) Ek bel van ver af.
DEWALD: Ek kan hoor. Die lyn suis vreeslik. Ek dog die Duitsers het goeie fone.
SUSAN: (FILTER) Ag, Dewald. Ek is iewers in ‘n bos – in China.
DEWALD: China?
SUSAN: (FILTER) Op die laaste nippertjie het Anton besluit hy wil nie meer Wene toe gaan nie. Hy het vreeslik heimwee ontwikkel vir sy ou mentor, Cheung. So ons is toe van hier af Johannesburg toe om visums te kry. En die volgende dag nog China toe.
DEWALD: Jy klink … vreeslik moeg. Is alles orraait?
SUSAN: (FILTER) Wel, ek was gister vir elf ure op ‘n oorgelaaide bus, op ‘n smal kronkel-pad deur die berge. So, ja, ek is nogal moeg.
DEWALD: So, dit moet vir jou great wees om in die geboorteplek van die simbaal te wees? Saam met die Prins, nogal?
SUSAN: (FILTER) Ag, Dewald, ek het ‘n vreeslike fout begaan! Die plek is ‘n hool. En hy is heeltemal in vervoering. Hou net heeltyd aan sê hoe toweragtig alles is. (SAGTER) Ek dink hy’s mal.
DEWALD: Wel, ek het jou probeer sê.
SUSAN: (FILTER) Ek weet. Nou sit ek hier. En moreoggend gaan hy hierdie berg klim, want hy het nog simbale laat maak. Spekuleer net heeltyd oor wat hy hulle gaan noem.
DEWALD: En die ou man?
SUSAN: (FILTER) Gmmf. Moenie eens praat nie. So vuil ou man. Knyp die heeltyd my boud en probeer my soen met ‘n tandlose mond. Ek gril my dood. En Anton dink dis wonderlik dat hy so
goed met ‘n westerling oor die weg kom wat nie ‘n simbaal-speler is nie.
DEWALD: Wat kan ek doen om te help?
SUSAN: (FILTER) Ek dink nie daar is iets wat jy kan doen nie. Ek probeer net so gou as moontlik hier weg kom.
DEWALD: Okei, slaap maar net met een oog oop.
SUSAN: (FILTER) Dit kan jy van seker wees. En ek is vreeslik bekommerd oor die program. Ek was so onverskillig om jou net so te los met die sak patats. En oor alles wat ek gesê het.
DEWALD: Ag moenie te veel worry nie. En ek het meeste van die tyd my recorder aangehad. Selfs toe jy nie gedink het hy was aan nie.
SUSAN: (FILTER) So, kon jy darem iets daaruit maak?
DEWALD: Ek kon iets maak, ja. Maar ek moet eerlik wees. Ek het jou stem uitgesny en my eie vrae ingesny om sin te maak van die hele ding.
SUSAN: (FILTER) Dis hoekom hulle jou Mister Edit noem, né?
DEWALD: Jy kan so sê. (POUSE) Soes?
SUSAN: (FILTER) Ja, wassit?
DEWALD: Het ek jy bedoel wat jy gesê het – nou die aand? By Lambrecht se huis?
OOMBLIK STILTE
SUSAN: (FILTER) Nee. Ek hoop jy kan my vergewe. Jy ken my so goed en jy het deur my gesien.
DIE LYN BEGIN AANSIENLIK VERSWAK
DEWALD: Ek wil vir jou iets sê.
SUSAN: (FILTER) Wat? Dewald … kan jy bietjie harder praat? Ek kan nie so goed hoor nie?
DEWALD: Soes … ek wil …
SUSAN: (FILTER) Ag tog … die telefoon … hello? Dewald?
DIE LYN GEEN NOG ‘N LAASTE SUIS EN DAN:
KLIK
DEWALD: Ai. Demmit.
GEHOORBUIS NEER
ATMOSFEER DOOF
MUSIEK: SIMFONIESE UUR KENWYSIE
DEWALD: Welkom, liewe luisteraars by hierdie spesiale uitgawe van Die Simfoniese Uur. My naam is Dewald Alberts en staan in vir Susan de Lange wat skielik op verlof is. Ons het vanaand ‘n
spesiale program, ‘n baie spesiale onderhoud met ‘n spesiale persoon. Time Magazine noem hom die Prins van Simbale. Na sy opspraakwekkende verskyning op die voorblad van Vanity Fair saam met Jennifer Aniston sê sy “hy het die sagste hande in die besigheid”. Ons praat van niemand anders nie as Anton Lambrecht. Ek het onlangs met hom gesels na die Kaapse Filharmoniese Orkes se opvoering van Vivaldi se Vier Seisoene – waar sy simbale die gehore in vervoering gehad het. Luister gerus saam met ons na hierdie baie spesiale opname – gemeng en verwerk deur myself, Dewald Alberts.
ATELJEE ATMOSTFEER;
ANTON SE DIALOOG GESNY UIT VORIGE
SEGMENTE
DEWALD: Dankie dat vir ons tyd gemaak het hier op Die Simfoniese Uur, Anton.
ANTON: Geen probleem nie.
DEWALD: Ek wil graag begin deur die luisteraars ‘n ware beeld te gee van jou menswees.
ANTON: Gaaf. Ek skink vir myself nog ‘n drankie. (BEWEEG WEG)
DEWALD: Waarheen gaan jy? Ons het nou net begin?
ANTON: … waar elke simbaal-speler wat sy sout werd is heen gaan om sy innerlike ritme te vind … en waar jy jouself ontmoet.
DEWALD: Waar’s is die plek?
ANTON: Bietjie hoër, of bietjie laer. Bietjie meer van regs, bietjie meer van links.
DEWALD: Ek is jammer, Anton, maar ek verstaan nie wat jy bedoel nie?
ANTON: Maar laat ek probeer verduidelik.
DEWALD: Gaan gerus voort.
ANTON: … depressief, en drink hy swaar.
DEWALD: Anton, jy maak nie sin nie, wie drink swaar? Jy? Ly jy aan depressie?
ANTON: Ja.
DEWALD: Weet die bestuur van die KFO dit?
ANTON: Bly uit dit uit …
DEWALD: Dit kan vreeslik sleg vir jou loopbaan wees, of hoe? Jy’s dapper, Anton. Om dit alles so op die lappe te bring.
ANTON: Ja.
DEWALD: Het jy al hulp gesoek? Rehabilitasie?
ANTON: Ons hou nie daarvan om oor die plek te praat nie … Dis ons eie wegvlug-plek … Ek maak nog elke jaar my pelgrimstog op soheen.
DEWALD: Maar dit lyk nie of dit help nie? Hoe gaan dit met die res van jou geestesgesondheid? Hoor jy dalk stemme?
ANTON: In die linker hemisfeer van my gemoed, seevier die kort gesette admiraal met sy krulsnor … Aan die regterhand …. die briljante Dokter Basson.
DEWALD: Twee persoonlikhede dus?
ANTON: Kobus … van die plaas Kokersfontein in die Winburg-distrik. Kobus is ‘n nukkerige man. Hard gebrei deur ‘n lewe op ‘n plaas van droogte.
DEWALD: Drie persoonlikhede?
ANTON: Geen probleem nie.
DEWALD: Wel ek is seker dit gaan ‘n probleem wees vir die KFO?
ANTON: Dit gaan oor die dualiteit van die heelal.
DEWALD: Maar dis dan drie persoonlikhede. Die doktor, die admiraal en die boer?
ANTON: Een is jing. Die ander is jang. Saamgeslaan. Miskien het ek nog nie die regte persoon ontmoet nie.
DEWALD: Wel, klink vir my en vir die luisteraars asof jy heelwat kandidate het om van te kies?
ANTON: Soms slaan die simbaal wanneer hy moet slaan.
DEWALD: Dit is waar, Anton. Wel, daar het julle dit uit die perd se bek. Anton, ek dink die tyd word min. Jy het duidelik heelwat om oor na te dink.
ANTON: Wat sê jy ons maak gou hierdie onderhoudjie klaar-
DEWALD: Ek stem saam. Anton Lambrecht, ‘n voorreg en ‘n plesier om jou as gas te gehad het op Simfoniese Uur. Nog een, laaste, vinnige vragie.
ANTON: Geen probleem nie.
DEWALD: Wat sou jou advies wees vir aspirant klassieke musikante?
ANTON: Bly uit dit uit, Japie.
DEWALD: Weereens, dankie. En Anton, sterkte op jou pad vorentoe. Jy mag dit dalk nodig kry.
ANTON: Gaaf. Ek skink vir myself nog ‘n drankie. (BEWEEG WEG)
DEWALD: Ná die reklame-flits, lang, lang onderhoude met van Lambrecht se kollegas by die KFO. Of, soos dit vanaand vir my geklink het, voormailige mede-kollegas van Lambrecht. Bly ingeskakel op Die Simfoniese Uur. Ek is Dewald Alberts.
DOOF