Blokkies op ‘n kysbrief

by Leon Jacobs

My vraag aan jou is volmaak gevorm
soos ‘n perfek-gebakte broodjie
wat te mooi is om te eet.
My kykers is blinkgevryf
deur die nege somers wat
reeds by hulle ingestroom het.
Elkeen ‘n versnellende wolk
wat voor die son verbyrol.

Merk die toepaslike keuse
met ‘n regmerkie in die blokkie:

ja nee miskien

en verskoon die handskrif
en die papier.